In die onderwys is daar so baie grense waar binne ons moet bly. Die regering skryf omtrent voor watter onderwerp jy op watter dag moet doen. Jy kan net ‘n handboek kies van die lysie wat deur die departement goedgekeur is. Daar is spesifieke goed wat jy moet assesseer en dis dit. En dit terwyk onderwys eintlik ‘n ongelooflike kreatiewe beroep moet wees.
Tydens hierdie week se opleiding sessie met die Afrikaanse onderwysers het ek besluit dis nodig dat ons weer die kreatiewiteit terug bring en net sommer geinspireer raak.
Ons het die sessie begin deur te gesels oor wat die grootste probleme is wat hulle in die Afrikaanse klas ervaar en wat hulle dink die oplossing vir hierdie probleme is. Aangesien ek geen ervaring in tale het nie, was die vloer heeltemal oop vir hulle idees en insette.
Toe het ek hulle uitgedaag op in die oorblywende 30 minute ‘n les te beplan. Met geen grense. Dit maak nie saak of dit in die kurrikulum is nie. Dit hoef nie eens prakties uitvoerbaar te wees nie. Letterlik net wat hulle wil.
Ek het vir hulle ‘n paar links gestuur van my gunsteling lesplan-bloggers, om as inspirasie te dien. Nie eens spesifiek taallesse nie. Na alles is hulle almal goeie onderwysers en enige iets kan daardie vonkie wat nodig is, verskaf.
Hulle het hulle lesplanne op Google Docs geskryf en met my gedeel. Na die tyd het ek rustig deur die lesplanne gaan en vir hulle notas maak oor hoe hulle tegnologie kan gebruik om dit uit te voer. Daar is miskien bietjie skaafwerk nodig om die lesse weer binne die Departement van Onderwys se boksies te pas, maar elkeen van die lesse is uitvoerbaar.
Nie net het ek nou ‘n versameling van kreatiewe Afrikaanse lesplanne nie (wat ek met hulle toestemming oor die volgende paar weke sal deel nie), maar elkeen het op een of ander stadium gesê: “Weet julle, ek dink ek gaan dit actually doen.”
Dalk gaan hulle nooit hierdie spesifieke les probeer nie, maar elkeen was beslis geïnspireer om iets nuuts te probeer. Iets wat voorheen onmoontlik was.
Hierdie sessie was so suksesvol dat ons besluit het om een ‘n kwartaal te hê vir elke vakgroep.
Leave a Reply